Verblyf in Onder-Sabie sluit in:

Tent of Karavaan

33 x tent- of karavaanstaanplekke met kragpunte. Gemeenskaplike ablusie- en kookgeriewe (24-uur kookwater, elektriese plaatstowe en opwasbakke). Maksimum ses persone per staanplek.

Hutte

Daar is 1, 2, 3 of 5-bed-eenhede (4 x 1-bed hutte en 26 x multi-bed-hutte) met gemeenskaplike ablusiegeriewe en gemeenskaplike kombuis. Die eenhede het yskaste en lugversorging, maar daar is geen kooktoerusting, breekware of eetgerei. Daar is wel 'n gemeenskaplike kombuis met opwaskamer en elektriese plaatstowe.

Safari-tente

24 x 2-bed gemeubileerde seiltente op stelte (sommige toeganklik vir rolstoele), ten volle toegerus met twee enkelbeddens, 'n yskas, oorhoofse waaier en klein stoepie. Gemeenskaplike ablusiegeriewe en kombuise. Daar is 'n keuse van tente met of sonder rivier-uitsig. (Bevestig asseblief tydens bespreking.)

Rondawels

58 x 2-bed-eenhede (een toeganklik vir rolstoel), toegerus met ablusiegeriewe (meeste met storte, maar een met 'n bad), yskas en lugversorging. Daar is geen kookgereedskap, breekware of eetgerei, maar 'n gemeenskaplike kombuis met opwaskamer en elektriese plaatstowe is beskikbaar. Jy het 'n keuse van ’n rondawel met of sonder 'n uitsig van die kampheining. (Bevestig asseblief tydens bespreking.)

Twee x 3-bed eenhede, ten volle toegerus met 'n en suite-badkamer (1 met stort en een met 'n bad), kombuis, yskas en lugversorging.

Gesinsrondawels

Twee x 5-bed eenhede (twee aparte slaapkamers, een met twee enkelbeddens en een met drie enkelbeddens), ten volle toegerus met 'n kombuis sowel as en-suite badkamers. Geleë in die goedkoper akkommodasiedeel van die kamp, maar wel met eie braai-areas.

Keartland-gastehuis

Die Keartland-gastehuis is 'n groot luukse akkommodasie-eenheid met 'n baie goeie ligging en rivier-uitsig. Daar is ’n goedtoegeruste kombuis (wel sonder mikrogolfoond), verskeie slaapkamers en badkamers. Beperkte kanaal DSTV-televisie. 

Slaap ses in drie slaapkamers, (elk met twee enkelbeddens).

Beskikbaarheid en pryse (Skakel sal jou neem na SANParke se Webwerf)

Kommentaar deur Francois Marais:

"Onder-Sabie is definitief een van my gunsteling kampe. 'n Mens kan omtrent die hele dag op die Houtdek by die restaurant spandeer en uitkyk oor die Sabie-dam. Vandaar kan jy seekoeie en krokodille sien. Af en toe is daar olifante wat in die dam swem met net hulle slurpe wat uitsteek. Die luukse Safari-tente is definitief iets wat die moeite werd is om te oorweeg. Ek het eendag op die tent se voorstoep gesit waar ek verras was deur 'n yslike bosbokbul.

"As jy by Onder-Sabie wil gaan kuier,  is dit wenslik om selfs 'n jaar vooruit te bespreek. Die kamp is baie besig omdat dit naby Krokodilbrug (ongeveer 33km) en ook naby Skukuza is. Die kamp ontvang baie dagbesoekers. Die rit tussen Onder-Sabie en Skukuza is baie lonend en as jy stadig ryk kan jy maklik 'n skaars bosbok in die ruigtes langs die rivier sien. Mens word ook gereeld verras deur verskillende wild wat by die rivier gaan water drink. Olifante kan jou nogal onkant betrap.

"Nkulu-piekniekplek tussen Onder-Sabie en Olifants is 'n gunsteling plek om te stop en ontbyt te eet. Ongelukkig is die bobbejane daar nie meer menssku nie en sal gou jou kos van jou bord af steel. Nie baie gerusstellend indien jy klein kinders by jou het nie. Dis jammer, want hierdie bobbejane sal waarskynlik van kant af gemaak moet word.

"’n Mens het seker een van die beste kanse om 'n luiperd in die Wildtuin op die teerpad pad tussen Onder-Sabie en Skukuza te sien. Op die grondpad tussen Onder Sabie en Skukuza het ek ook al met meer as een geleentheid jagluiperds gesien. Die roete tussen Onder-Sabie en Krokodilbrug is ook baie goed en mens kan amper verseker wees om Witrenosters te sien."

Terug Terug na bo