Kaptein JJ Coetzer was die eerste veldwagter wat hom doer ver noord in die Krugerwildtuin kom vestig het. Daar waar eertydse stropers olifante met ou Mausers geskiet het. Nou, met Coetzer se aankoms in dié streek was die eerste dier wat hy gesien het ’n kwagga. “Punda Milia!” roep hy uit wat ‘gestreepte donkie’ in Swahili beteken, want sien onse Coetzer was al in die lande van die Swahili’s ook. Maar daar is ’n vermoede dat Coetzer se wederhelf nie daarvan sou hou as haar man soveel eer aan ’n kwagga gee en sy word geensins gereken nie. Vroulief se naam was Maria en siedaar, Punda Maria is gebore ...

Punda Maria is die mees noordelike kamp, met nog net die Pafuri-hek verder noord en is in die sandveldstreek wat dikwels beskryf word as die botaniese tuin van die Kruger. Daar is vele endemiese plantspesies in dié omgewing. Wild wat meesal in die omgewing opgemerk word sluit uiteraard kwaggas in, maar ook buffels, olifante, elande en die skaars en edele swartwitpense. Die gebied is 'n voëlkykparadys.

Akkommodasie in Punda Maria:

Kampplekke
50 x tent- of karavaanstaanplekke, met of sonder kragpunte en braaiplekke. Gemeenskaplike ablusie- en kookgeriewe (24-uur kookwater, elektriese plaatstowe en opwasgeriewe). Maksimum ses persone per staanplek.

Safari-tente
7 x 2-bed gemeubileerde seiltente op stelte, ten volle toegerus met stort, yskas, kook- en braaiplekke.

Rondawels
18 x 2-bed-eenhede toegerus met en-suite-badkamers (almal met storte), lugversorging en gemeenskaplike braaiplek. Daar is geen kookgereedskap, breekware of eetgerei nie, maar wel 'n gemeenskaplike kombuis met opwaskamer en elektriese plaatstowe.

4 x 3-bed-eenhede toegerus met en-suite-badkamers (almal met storte) en lugversorging. Elk het 'n wasbak en plaatstoof in 'n kombuis. Daar is 'n gemeenskaplike braaiplek.

Gesinsrondawels
Daar is 2 x 6 bed-eenhede, met drie en-suite-slaapkamers (twee slaapkamers elk met twee enkelbeddens en een slaapkamer met 'n dubbelbed). Toegerus met oopplan-kombuis, eetkamer, kroegie en sitkamer met TV wat beperkte kanaal DSTV het. (Een slaapkamer is ’n solderkamer met sy eie stoep). Onder is ook ’n kuierstoep met ’n braaiplek. Kan die lekkerder nie ...

Terug Terug na bo