Nuusbrief/Blog


2016-05-15
Verlange na die Krugerwildtuin


Vandag verlang ek na die Krugerwildtuin.

Ek het bietjie lanklaas 'n blog uitgegee op die webwerf. Meeste van my blog-inskrywings en die inligting op die webwerf van die Krugerwildtuin is feitelike inligting en nie filosofies of emosioneel nie.

Hierdie skrywe wat hopelik na iewers gaan lei op die koel wintersoggend in die Kaap is 'n uitsondering.

Dit is 'n lang en ver pad na die Krugerwildtuin vanaf Kleinmond –  tussen Hermanus en Gordonsbaai – in die Wes-Kaap waar ek woon. Ons het 'n klein baba in die huis en dalk is sy op agt maande nog te klein om saam te neem na die Krugerwildtuin. Miskien volgende jaar?

Ek verlang nou sommer ook na my ma, my ma wie baie lief was vir die Krugerwildtuin.

So is dit met baie gesinne in Suid-Afrika, mense wat baie gelukkige ervarings as kinders in die Krugerwildtuin gehad het. My 12-jarige dogter Lali wat by haar ma in Pretoria woon het opgewonde gevra of ons na die Wildtuin toe gaan die jaar. Ek moet (hopelik) by 'n nuwe werk begin die week so dit gaan nie die jaar gebeur nie. Nou verlang ek sommer na my dogter ook.

Nou kort ek net om na "Trein na Pretoria" van die Briels te luister en ek kry sommer dronkverdriet op my tweede glas goedkoop bokswyn. Hierdie nostalgiese vuurtjie is vanoggend aangesteek toe ek met Frans Rautenbach, skrywer van "Verkyker, grondpad en kaart - Jou Krugerwildtuin gids met stories" op Facebook gesels het. Ek ken eintlik Frans se broer Gerrit. Hulle is seuns van wyle Fanus Rautenbach. Uit gesprekke met Gerrit blyk dit dat hul mense se liefde vir die Krugerwildtuin ook diep lê.

My dogtertjie Lali Marais op haar kampstoeltjie in Pretoriuskop kamp. 

Hopelik kry ek die goeie nuus Maandag dat ek Dinsdag by die werk kan aanmeld en dan kan ek volgende maand my besprekings vir 2017 in die Krugerwildtuin met 'n rustige hart maak. Ons kry daagliks versoeke van mense wie wil plek bespreek in die Krugerwildtuin vir die 2016 Junie/Julie vakansie. Daar is amper geen plek beskikbaar nie. As ek die tyd en geld gehad het sou ek wel self elke dag SANParke se webwerf besoek en kyk of daar nie dalk 'n kansellasie is nie. Daar is nog plek beskikbaar in plekke soos Marlothpark langs die Krugerwildtuin en dikwels is dit goedkoper as om binne die wildtuin te probeer bly.

Tog is dit darem maar baie lekkerder om binne die Wildtuin te bly as daar buite. Tydens ons laaste besoek aan Marlothpark het ek myself en die kinders verras deur op die ingewing van die oomblik vir ons 'n plek te bespreek in Onder-Sabie. (Ons was eintlik net dagbesoekers vir die dag maar daar was plek in my gunsteling kamp en ons het dit net daar en dan bespreek). Ons het later plan gemaak om tandeborsels en ander badgoed te koop - seep vir die onderklere. Die kinders was verskriklik opgewonde.

My buurman daardie aand was 'n ryk Indiër-sakeman en sy gesin van Pietersburg. Soos die aand aangegaan het, het ons lekker gesels oor die Wildtuin. Ons het hoofsaaklik gekuier by my vuur, want sy vrou en skoonsuster was besig in hul kombuisie met een of ander Durbanse kerrie. Sy dogter het skaam-skaam opgewonde nader gestaan en vir my op hul kameras foto’s gewys van 'n trop leeus wat hul ver oorkant die Sabierivier met hul teleskopiese lens afgeneem het.

Ek het skaam gekry oor apartheid, oor 'n tyd toe die Krugerwildtuin nie vir nie-blankes beskore was nie. Hoe vra mens verskoning vir die geskiedenis van Suid-Afrika, hoe maak mens die verlede se vernedering reg? Ek het moed geskep vir die toekoms van die Krugerwildtuin, moed geskep vir 'n Suid-Afrika waar mense oor die kleurgrens heen, rondom 'n braaivleisvuur, opgewonde kan wees oor die wonderlike ervarings van die Krugerwildtuin.

Sal my dogter dalk ook eendag soos ek haar wittebrood in die Krugerwildtuin hê? Sal my kleinkinders ook opgewonde na die natuurlewe-flieks op die buitelugskerms kan kyk?

Ek onthou die wonderlike restaurante van die ou Krugerwildtuin waar daar op die tromme geslaan is om tyd vir aandete aan te kondig. Vandag is daar Franse restaurante in Kruger. Ek onthou spesifiek Olifantsruskamp se restaurant waar my gedagtes as kind ook gaan dwaal het oor die moontlikheid van 'n mortieraanval vanuit die Mosambiekse kant van die Lebomboberge deur die ANC.

Ek weet van die nuwe restaurante en ook nuwe ontwikkelings soos die nuwe hotel in Malelane. Gaan die Krugerwildtuin wat ek as kind ervaar het dieselfde Krugerwildtuin wees wat my kinders ervaar?

Darem hoef hulle hul nie oor mortiere of landmyne te bekommer nie.

Ek verlang na die Krugerwildtuin ...

 


Terug Terug na bo