Nuusbrief/Blog


2020-01-11
Punda Maria, Kruger se geheime juweel


Storie en fotos deur Koos Marais

Ons was verlede jaar nie minder as vyf keer in die Kruger Nasionale Wildtuin en twee keer daarvan was ons in Punda Maria in die verre noorde.

Die Roete

Mense dink Punda Maria is oneindig ver, omdat hulle die afstand meet op die wildtuinpaaie vanaf die meer suidelike kampe. Dit is inderdaad só dat dit mens maklik ’n dag sal neem om vanaf die verre suide, byvoorbeeld Krokodilbrug tot by Punda Maria te ry teen die snelheidsbeperking van 50 kilometer per uur op teerpaaie.

Ek het self so geredeneer vir baie jare en het dus selde in hierdie pragtige deel van die wildtuin gekom. Tydens een van my vorige besoeke aan Punda Maria het ek boonop die fout gemaak om die Pafuri-hek te gebruik, ’n ompad wat my nog ’n ekstra drie uur gekos het. Dit was ’n lang storie.

Ek het nou uitgevind dat Punda Maria inderwaarheid een van die naaste kampe aan my tuisdorp, Pretoria is, mits jy die regte pad gebruik. Dit werk so: Vir baie jare was die middel-kampe, Letaba, Olifants, Mopanie, Tsendze en Shimuwini ons gunsteling kampe, maar die toenemende getalle toeriste het ons later na die noorde laat kyk. 

Ons normale roete na Letaba was Pretoria-Polokwane-Phalaborwa. Dit het ons ongeveer vyf en ’n half uur geneem. Daarna was dit ten minste een uur tot by Letaba, dus ses en ’n half uur.

Groot was ons verbasing toe ons verlede jaar in presies ses uur die afstand vanaf ons huis in Pretoria tot in Punda Maria afgelê het. Dit was dus vinniger as na Letaba. Die geheim lê in die roete. Dit is moontlik om oor Louis Trichardt te ry of om selfs die fout te maak om oor Tshipise en Thohoyandou te ry. Dit gaan jou baie langer neem. Die regte roete is om oor Giyani te ry. Dit neem ons net meer as twee en ’n kwart uur om vanaf Pretoria tot by Polokwane te ry. Daar moet jy jou oë mooi oop maak. Neem die Tzaneen-pad. Hierdie afrit is ook die afrit na Giyani, maar Tzaneen se pad splits baie gou weg. Hou dan reguit op die afrit, want dit word die Giyani-pad. Volg die Giyani-pad tot by Mooketsi en draai links rigting Giyani. Ry reguit deur Giyani en na 50 kilometer draai links op die Punda Maria pad. Vanaf Giyani is daar klein nedersettinkies met spoedbeperkings wat dit laat voel of jy nooit by Punda Maria gaan uitkom nie, maar geniet die rit, want na twee en ’n bietjie uur is jy by die Punda Maria hek, slegs tien minute vanaf die kamp. 

Ons het skielik met ander oë na Punda Maria begin kyk.

Die Kamp

Die nostalgie kleef aan Punda Maria soos ’n bosveldorgidee aan ’n mopanie. Die grasdakhuisies lyk nog net soos 50 jaar gelede. Daar is twee reguit rye skakelhuisies met klein stoepies. Die meeste het nie hulle eie kookgeriewe nie. Dit dwing jou om die wildtuin te ervaar soos ons voorvaders dit gedoen het- by die sentrale kook- en braaiplek. Hierdie grasdakhuisies bied ook die wonderlike luuksheid van lugverkoeling.

Daar is natuurlik ook ’n aantal volledig toegeruste luukse tente wat baie privaat is en pragtige uitsigte het, maar sonder lugverkoeling.

Een van Punda Maria se onderskeidende eienskappe is egter die lekker kampeerterrein met sy swembad, elektrisiteitspunte en die beste van alles die uitkykpunt by die waterdrinkplek. Dit is niks snaaks om olifante en buffels by die dammetjie reg teen die draad te sien nie. Een nag drie-uur het ons leeus gehoor brul reg by die dam en ons soontoe gehaas. Ons was lekker verbaas toe ons daar kom in die middel van die nag en die hele skuiling sit vol mense. Hierdie skuiling en uitkykpunt is ’n relatiewe nuwigheid in Punda Maria wat die karakter van die kamp positief verander het.

Tydens ons eerste 2019 besoek in April het ons ’n draai in die restaurant gaan maak, maar was teleurgesteld. Toe ons in Desember weer daar kom is die restaurant deur Tindlovu oorgeneem en was ons aangenaam verras. Die kos en diens was uitstekend. Ek het die heerlikste vars samoosas daar verorber.

Foto : Koorsboomwoud

Die Wildkykervaring

Toeriste wat net leeus en luiperds wil sien mag miskien effens teleurgesteld wees met ’n Punda Maria besoek. Hierdie kamp is nie Onder-Sabie nie. Jy moet bietjie werk om jou roofdiere te sien. Ons hét al vier leeumannetjies in die Mahonie kringpad gekry en tydens ons Desemberbesoek was daar twee luiperds digby die kamp. Al die ander wild is daar; ons het selfs elande gekry en ook ’n troppie wildehonde. Punda Maria is natuurlik bekend vir die njalas en dit is een van die min kampe waar jy die Sharpe’s grysbok oftewel die Tropiese grysbok sal sien. Die voëllewe is ook uniek en een van my hoogtepunte was toe ons ’n takslang in die pad gekry het. Die takslang is uiters giftig en daar bestaan geen teengif nie. Waar anders sal ek nou die geleentheid kry om hierdie unieke dier in sy natuurlike habitat te sien? By die nabygeleë Klopperfontein is die veld mooi oop en is dit moontlik om vir ure te sit en wag vir die perfekte foto. Daar is veral baie olifante.

Pafuri se piekniekplek

As ek moet eerlik wees moet ek erken dat die lekkerste van die wildtuin vir my sy piekniekplekke is. Ons sal baie selde indien ooit in die kamp ontbyt maak. Daarvoor ry ons altyd na ’n piekniekplek. Letaba het sy Makhadzi piekniekplek en Satara sy Nwanetsi en Mopani sy Mooiplaas. Die suide se Afsaal en Tshokwane is eenvoudig te besig. Die koning van alle piekniekplekke is Pafuri op die walle van die Levuburivier. Dit is moontlik een van die heel mooiste plekke in die hele wildtuin of selfs in die hele land. Geen besoek aan Punda Maria is volledig sonder ’n behoorlike piekniek by Pafuri nie. Ons het in Desember sommer twee keer die 50 kilometer soontoe gery en heerlik ontbyt gemaak onder die koelte van die reuse jakkalsbessies. Wees op die uitkyk vir die skaars visuil. Net na ontbyt kan mens bietjie na die Pafurihek toe ry, net omdat jy kan en omdat jy deur die beroemde koorsboomwoud sal ry. Dit is net sowat 12 kilometer ver. Een van Pafuri-piekniekplek se voordele is dat dit te ver is vir besoekers. Dit is eintlik net toeganklik vir besoekers wat in Punda Maria oorslaap. Die ouens in Shingwedzi moet lank in die kar sit om by Pafuri uit te kom. Op vakansiedae raak ook Pafuri besig wanneer die dagbesoekers inkom.

Die heel beste van Punda Maria is dat mens daar plek kry wanneer al die ander kampe volbespreek is. Die kamp is nie so gewild soos die ander meer suidelike kampe nie. Ek voorspel dat dit nie meer lank so sal wees nie. Moet asseblief nie vir almal vertel nie. Grappie.

Foto : Pafuri se Piekniekplek

 

 

 

 

 



Kommentaar
Sit jou kommentaar by 
   

* Naam:   
* Epos:    
* Kommentaar:    
  Bereken asseblief die volgende som en sit die antwoord in die blokkie: 1 x 4 + 5 = ?
Antwoord:
 
Please leave this box blank.
 
Terug Terug na bo