Balule is 'n satellietruskamp van Olifants, eenkant geleë op die oewer van die Olifantsrivier. In dié kampie kry ’n mens nog die gevoel van die ou-ou Wildtuin, want dit is een van die min plekke waar daar glad nie elektrisiteit is nie. Saans word lanterns nog opgesteek.
Eintlik is Balule op ’n manier twee klein kampies langs mekaar. Ses hutte aan die een kant en aan die ander kant is daar 15 kampeerplekke. Daar is gemeenskaplike badkamers, 'n kombuisie bestaande uit 'n tweeplaat-gasstofie en ketels vir kookwater. Vir koffie ...
Selfs in die hutte is daar net lanterns vir die aande. Daarom moet jy onthou om jou eie kamp- en flitslig saam te bring. Laatnag kan dit pret raak as jy die kleinhuisie moet loop soek.
Heel aand hoor ’n mens die Wildtuin praat. Die snorkgesprekke van die seekoeie; naguiltjies, krieke; laatnag stuur rooijakkalse hartseerrillings uit afgewissel met die hoonlag van ’n hiëna. En dan steun die onbetwiste koning sy boodskap uit ...
Balule-kamp se gemeenskaplike braaiplek maak dié kamp ideaal vir groepbesprekings.
Terug | Terug na bo |